Union Buildings

Union Buildings

Wednesday 9 November 2016

'N BESOEK AAN INDIE EN PAKISTAN

Nieu Delhi: Mnr Evert Riekert, ADG (Administrasie) verewig deur Pierre Dietrichsen se kamera terwyl  hy 'n sari aanpas

Een en die ander oor 'n warm ondervinding
Pierre Dietrichsen
Meintjeskop Koerier Volume IV, 1993

Een van die gevolge van die aktiwiteite van die "Span van 26" onderhandelaars is dat ons klompie hier op Meintjeskop nou kan gaan kuier in plekke waarvan ons vroeer net die naam geken het. So begin ons nou stadigaan besef wat ons kollegas van ander lande bedoel wanneer hulle met groot omhaal van woorde en gebare vertel van 'n moeilike "posting" in een of ander eksoties-klinkende plek.

'n Ondervinding in daardie kategorie het 'n spannetjie van die Departement onlangs te beurt geval toe Indie en Pakistan besoek is. 'n Besoek is vir die Direkteur-generaal gereel aan Indie en mnr Evert Riekert en ek sou saamgaan om "voorspan" te wees vir die open van 'n missie daar en daarna Pakistan te besoek met dieselfde doel en om 'n besoek van die DG aan die land te reel.

Die ingewikkeldhede van programme en internasionale reise het natuurlik van meet af ' n hand in die sakie geneem en skaflike datums voor die somer het verander na 'n besoek in die somer. Ek haas my om te bieg dat daar seker ander hoeke is waaruit so 'n reisbeskrywing met meer "styl" kan begin word maar hitte was een van ons almal se eerste gewaarwordings so dit het seker sy plek! Die baas van administrasie was die eerste om te arriveer; so skuins voor middernag, se hy. 

Die aankomssaal is groot en breed en 'n hele paar 747's se passasiers pas toe lekker daarin. Almal is gesellig en skuifel tot voor by die paspoorttoonbank net om te vind dit het intussen teetyd geword. Die temperatuur draai so by dertig en voel soos veertig terwyl die lugverkoeling en die waaiers hard probeer om 'n klein oorloggie op Delhi-lughawe te verhoed. Tasse arriveer gelukkig in een stuk maar na die twee-uur lange gestoei om uit die gebou te kom laat die temperatuur buite hom amper verlang na die koeligheidjie binne. Van die verwagte hotel taxi is daar geen tyding of teken nie maar gelukkig isdaar toe 'n ander drywer wat besluit "Mister Riekert" klink heeltemal genoeg na dit wat op sy papier staan en kort voor lank is EPR op pad na die hotel. Iewers is daar 'n rekenmeester wat nie sal kan verstaan hoe die vreemde handtekening op sy kollega of baas se vorm gekom het nie ... of so iets! ADGZ was maar te bly om by die hotel te kom (maar wonder steeds of die reuk van humiditeit en kerrie ooit uit die plek se lakens gewas sal kan word).

Uit 'n ander hoek benader die DG en ek intussen die Subkontinent. Ons was gelukkiger op die lughawe behalwe met die amptelike geskenke wat ek saamgedra het. Een was 'n papiermessie wat om veiligheidsredes(?) aan die begin van die vlug ingehandig moes word en by aankoms driekwartuur geneem het om weer sy verskyning te maak. Ons rit na die hotel was insidentloos as jy in ag neem dat die verkeer in beginsel werk op die oerwoudwet, naamlik die grootste of die braafste gaan eerste. Gou het ons die spreekwoordelike heilige koei in lewende lywe teegekom en gesien dat sy inderdaad die heel belangrikste padgebruiker is.

Die Taj Mahal hotel het 'n mooi uitsig verleen oor 'n baie boomryke stad met Sir Herbert se twee kleiner weergawes van die Uniegebou op ‘n afstand. Ons afsprake in een van die twee geboue het die res van die dag in beslag geneem maar op pad terug na die afsprake kon ons 'n draai ry om 'n paar van die oudste tempels en geboue te sien. 'n Mens het onder die indruk gekom van die geweldige ou beskawing en ook die verskynsel dat die verloop van tyd en die kwaai klimaat sy tol geneem het met die onderhoud en bewaring van die onvervangbare monumente. Voorwaar 'n jammerte. Twee verdere observasies: vrouens beklee orals prominente poste en die Indiers was besonder vriendelik en geinteresseerd in die besoekers en dit wat in Suid-Afrika aangaan. Tydens 'n werksete is menings vinnig en woes gewissel tussen akademici, joernaliste, sakemanne en amptenare oor Suid-Afrika en veral oor ons toekoms.

Kenners met Afrika ondervinding beklee die een hoek terwyl die met ander of geen ondervinding inweeg in die ander hoek met die steun van die "skeidsregter". Ons spannetjie en die Delhi- verteenwoordiger van 'n prominente WTC gespreksgenoot was naderhand geamuseerde toeskouers. Die kos was getrou aan tradisie en het 'n blywende indruk gemaak …….       .

Die DG se vlug vertrek na middernag en vroegoggend begin mnr Riekert en ek ons tog na Islamabad oor Karachi. Voor ons tyd in Delhi om is, maak ons gou 'n draai by 'n winkel om 'n paar tipiese dinge aan te skaf. Groot was ons vermaak toe ADGZ binne sekondes met 'n lieflike sari om die skouers in die kamera se oog vaskyk. Ons stoei ewe oor die pryse en besluit in ons wysheid dat ons liewer later aan die einde van ons besoek in Bombaai sal koop met die paar dollars wat dan nog - mag oor wees. Pryse sal in elk geval daar eker beter wees, redeneer ons … min wetend. Ons was wel slim genoeg om ons te verlustig aan die uiters kunstige houtsneewerk van byvoorbeeld 'n olifantjie binne-in-'n-ander.

Die vlug na Karachi was sonder probleem en ons was beindruk met die standaard van die PIA. Die lughawe van Karachi is indrukwekkend. Nuut, skoon, doeltreffend, met behulpsame personeel. Heelwat groter as ons eie no 1. Die vlug na Islamabad bring 'n paar ondervindings. Ons probeer die plaaslike spyse en besef gou dat 'n delikate SA smaakorgaan "vierwiel aandrywing" nodig het om alles te kan hanteer. Heeltemal smaaklik maar met 'n hoe "voltage". Toe het ons water nodig! ! Die eerste glas wat ons aangebied word, beindruk nie en ons vra bottelwater. Die - lyk ook nie soos ons verwag het nie en na een sluk word die pilletjies uitgeh~al om die spulletjie te suiwer. Groot was ons konsternasie toe daar na so sewe minute 'n sentimeter jellie onder in die glas pryk. Hulp uit die oord van wyn of bier was daar ook nie want dit is verbied in publieke plekke in die moslemland. Ons moes ons toe maar op die wereldbekende cola beroep, sonder ys, om die effek van die "cuisine" te neutraliseer.     
      .
Islamabad is 'n stad wat gestig is na Pakistan se onafhanklikheid van groter Indie hier in die jare veertig net langs die stad Rawalpindi. Die nuwe langs die oue. Dit is relatief hoog bo seespieel, langs berge met bergpaaie wat in die berge inkronkel in die rigting van die bekende Khyber pas. Die stad is goed beplan met bree strate en netjiese, moderne regeringsgeboue. In die buitewyke vind 'n mens die regte Pakistan met oop markte, opelug-padkafees waar rys verkoop word binne klipgooi van waar die kamele vreet. Busse en vragmotors word met helder kleure beskilder en een is mooier as die ander. Ons bekyk een van die grootste moskees in die wereld met vier hoe torings op die hoeke. In 'n oomblik van surreele kultuursamekoms gesels ons met Sjinese besoekers wat hul sleutel binne in hul gehuurde Japannese voertuig toegesluit het terwyl ons Pakistani drywer probeer help! Die bergpaadjie was natuurlik self genoem om ons te laat praat oor die fles Skotse "medisyne" wat veilig in die tas in die hotel bewaar word.

Na 'n dag en 'n half se konstruktiewe ontmoetings met ewekniee en ander kenners van die plaaslike lewe in ambassades en wonings, vat ons die PIA vlug na Karachi waar ons dieselfde oefening aanpak.

Karachi verwelkom ons op Vrydag, die Sabbat met stil strate, 35 grade C en baie, baie humiditeit (met apologie aan maksi se advertensie). Eiendomsagente werk natuurlik (net soos by ons op 'n Sondag!) en kort voor lank is ons op 'n woeste jaagtog van konsulaat na konsulaat en toe na al wat lee huis in die woonbuurte Defence en Clifton (nogal). Hoe meer ons verduidelik dat ons nie daar en dan 'n "deal" kan maak nie hoe meer word ons met hulp oorlaai. Die hitte in elk van die lee huise was natuurlik ondraaglik en ADGZ en ek was maar elke keer te bly om terug te duik in die Hondatjie se lugverkoeling in. 

Wat ons dadelik opgeval het was die feit dat daar baie welaf mense in die stad bly. Groot huise met hoe veiligheidsmure, wagte en 'n badkamer vir elke slaapkamer was volop. Kombuise is duidelik nie 'n hoe prioriteit nie,klaarblyklik omdat eienaresse nie te dikwels hul eie kombuise besoek nie! Met ons blootstelling aan die spyse van die streek het ons natuurlik 'n paar keer goed verstaan wat die waarde is van die vrylik beskikbare privaatgeriewe! Ons was minder beindruk met die strande; elke siel wat ons daar aanskou het was van kop tot tone geklee in paslike gewade. Ten spyte van die hitte is sonbrand duidelik nie 'n probleem nie.

Ek moet aan ons vroulike kollegas noem dat die land die teenoorgestelde van Indie is wat die rol van dames betref. Nerens het ons 'n vrou in 'n prominente plek gesien nie en die naaste wat ons aan oogkontak of 'n glimlag gekom het was 'n enkele lugwaardin wat haar aan ons twee se manewales met die water vergaap het. Miskien met 'n dame wat nou weer die politiek betree het in die persoon van mev Benazir Bhutto, is daar hoop.

Na 'n onstuimige nagvlug op die rand van 'n monsoon het ons in Bombaai aangekom. Wat 'n enorme en digbevolkte stad! Verskeie indrukke tref 'n mens gou-gou. Aan die een kant die ou beskawing en die mooi koloniale geboue, en aan die ander kant die ellende van oorbevolking en armoede. Langs die elegante promenade voor die beste hotelle denkbaar waar die welaf plaaslike inwoners vir wandelinge gaan, is daar ook deurgaans hartverskeurende tonele van tieners met kinders wat bedel om aan die lewe te bly. Elke stoepie en gangetjie word deur mense bewoon met die uitsondering van amptelike geboue en geboue met hul eie veiligheidsreelings. Tog is daar onder die bevolking in markte en op straat 'n sekere lewenslus en energie te bespeur. Daar is diepgaande filosofiese en godsdienstige fasette van die volk se benadering tot die lewe en die hiernamaals wat 'n rol speel in hul dag-tot-dag bestaan wat vir die westerling moeilik is om te begryp, of dalk om te aanvaar. Soos Indie in die algemeen, is Bombaai vol botsende en fassinerende eienskappe. 

Vir die besoekende Suid-Afrikaner is daar 'n sekere bekendheid wat die koloniale geskiedenis en 'n oppervlakkige kennis van hul kultuur 'n mens gee maar hoe meer jy uitvind hoe minder begryp 'n mens. Daar is uiterstes in klimaat, taal, ontwikkeling, lewensstyl en amper elke faset van die lewe. 'n Kort besoek is net genoeg om 'n mens te laat wonder en ten spyte van die kwellende vrae oor byvoorbeeld die armoede, is dit 'n belewenis wat ek nie sou wou mis nie.

Hoewel daar heelwat aanpassings aan 'n mens se lewensstyl nodig sal wees, is Pakistan en Indie uiters interessant en 'n termyn in die streek sal sonder twyfel 'n ondervinding wees wat nie maklik vergeet kan word nie.


No comments:

Post a Comment